Agri SA het vandag in die lig van ‘n verklaring deur die RPO om voorwaardelik by Agri SA te bedank, met die RPO, NWKV en MPO vergader om ‘n oplossing te vind. Die gesprek het in ‘n positiewe en konstruktiewe gees plaasgevind. Van die uitkomstes wat hieruit voortvloei, behels onder andere:
- Agri SA Enterprises sal nie enige opleiding op die terreine van bedryfsorganisasies uitrol nie, alvorens daar nie vooraf met die relevante bedryfsorganisasies gekommunikeer en gekonsulteer is nie.
- Betrokkenheid en leidinggewing deur bedryfsorganisasies op hul onderskeie terreine van opleiding is van kritieke belang aangesien die nodige kundigheid, kennis en ervaring in die onderskeie bedrywe gesetel is.
- Agri SA Enterprises sal nie vir befondsing by die AgriSETA aansoek doen om opleiding in die rooivleisbedryf te doen nie, dit bly die prerogatief van die onderskeie bedryfsorganisasies wat ‘n direkte belang by die rooivleisbedryf het.
- Die RPO, NWKV en MPO bly konstruktief betrokke by Agri SA.
- Om verdere momentum aan dié ondernemings te gee, sal ‘n protokol opgestel word waarin duidelike riglyne uiteengesit word om effektiewe en tydige kommunikasie te verseker, wedersydse vertroue te verdiep, erkenning te gee aan die onderskeie rolle wat die organisasies vervul en om konstruktiewe samewerking ten alle tye te verseker.
Opgestel en onderteken deur Agri SA, RPO, NWKV en MPO.