Tyd loop uit vir Landelike Veiligheidstrategie

Donderdag | 08 Desember | 2022

Tyd is besig om uit te loop vir die veel besproke Landelike Veiligheidstrategie om impak te maak en sinvolle resultate ten opsigte van landelike veiligheid te lewer. Dit is die realiteit.

Dié strategie het reeds in 2011 sy oorsprong. Verskeie weergawes het hierna die lig gesien met weinig impak. Werklike en daadwerklike implimentering het nooit plaasgevind nie. ’n Sogenaamde finale weergawe is einde 2018 deur die Minister van Polisie en Nasionale Kommissaris afgeteken. Die finale weergawe is egter geensins anders benader as al die vorige weergawes nie.

Die Nasionale Spitsberaad in Junie 2022 het ten doel gehad om die strategie op te dateer. Daar is toe selfs ’n ministeriële taakspan saamgestel om toe te sien dat die implimentering wel plaasvind. TLU SA het ’n lid wat op die taakspan dien. Dit is egter duidelik dat die taakspan eintlik geen magte of invloed het nie. In ses maande het die Minister dit ook nog nie nodig geag om een keer met die taakspan te vergader nie.

As dit kom by wie is verantwoordelik vir die implementering van die nasionale Landelike Veiligheidstrategie is die antwoord eenvoudig.

“Die SAPD fasiliteer dit en is primêr verantwoordelik om die bal aan die rol te sit met die onderskeie landbou organisasies en ander rolspelers soos sekuriteitsmaatskappye by die proses te betrek,” se mnr. Hugo Pretorius, voorsiter van TLU SA se veiligheidskomitee.

“Samewerking op die front van landelike veiligheid sloer sedert die ontbinding van die kommando’s en die beplande oorskakeling na die reserviste stelsel, weinig reserviste is nog in diens, daardie poel het gekrimp tot ’n fraksie van wat

dit was,” verduidelik mnr. Pretorius.

“Die SAPD het al verskeie planne op die tafel geplaas, dikwels met ’n groot gejuig. Hierdie dokumente het egter inderwaarheid ’n rakdokumente geword. Die laaste sessie was op 28 Junie 2022 in Parys, met die belofte van spoedige implementering tot op grondvlak, hierdie het egter op weinige plekke gebeur.”

Daar is egter ’n streek wat suksesvol te werk gaan met die Landelike Veiligheidstrategie: Limpopo.

“Reeds jare gelede was die plaaswag struktuur in Limpopo gevestig wat alle rolspelers ingesluit het uit verskeie instansies en individue. Die deurslaggewende faktor is dat hierdie struktuur goed gekoördineerd is wat goeie samewerking meebring. Bykomend hiertoe is die oorkoepelende plaaswagte wat alle rolspelers van verskeie organisasies insluit. Die landelike veiligheidstuktuur is in aansluiting by hierdie reeds gevestigde strukture en almal wat met veiligheid te doen het, skakel by die struktuur in,” verduidelik mev. Erika Helm, voorsitter van TLU SA se plaaslike regeringskomitee.

“Hierdie struktuur word gedryf deur sterk leiers en senior persone wat goeie skakeling met die SAPD het. Die kamerastelsels en nood-radiokanale wat geïmplementeer is sorg dat alle inwoners by die struktuur inskakel wat bydra tot die sukses. Veiligheid kan nie gedelegeer word na enige party nie, elke gebied moet daardie verantwoordelikheid aanvaar en daadwerklik hard werk om deurgaans die strategie te ondersteun.”

Vir die grootste deel van die land bly die strategie net dit, ’n strategie.

“Vergaderings word aanhoudend uitgestel met geen opvolg datums. Dit staaf dat die staat en SAPD nie die wil of deursettingsvermoë het om landelike misdaad aan te spreek. Verder sit ons met ’n situasie dat die proses gekniehalter word deur tekort aan voertuie, mannekrag, kundigheid en baie dikwels die wil om daarmee suksesvol te wees. Daar is egter gelukkig nog lede van die SAPD wat wel toegewyd is.”

Geen aksie en uitvoering word gewys in die land se misdaadsyfers. “Die gesegde is nie verniet van uitstel kom afstel nie. Ek dink ons staan op die drempel van afstel as dit kom by die Landelike Veiligheidstrategie. As implementering van die begin af plaasgevind het, sou dit nou al ’n verfynde proses gewees het. Die sloerdery dra verder by dat produk-, veediefstal, diefstal van insetmiddele, asook die beskadiging van infrastruktuur nie aangespreek word. Dit is uiters noodsaaklik ten einde boere in staat te stel om te boer en sodoende voedselsekerheid te verseker. Vir die doeleindes van voedselsekerheid spandeer boere baie geld en tyd aan veiligheidstoerusting, kameras en sekuriteitsmaatskappye, wat nodig is ten einde die boer in staat te stel om voort te boer en te poog om sy veiligheidsrisiko te verminder.

Daar is baie gebiede waar plaaswagte, gemeenskap veiligheidstrukture suksesvol buite die landelike veiligheidstruktuur funksioneer omdat die SAPD so voete sleep.

“Landbou en boere daag nog al die pad op, maar dieselfde kan nie van regering en SAPD gesê word nie. Dit is vir ons belangrik dat dit duidelik is dat ons nog altyd deel van die oplossing wil wees,” sê mnr. Pretorius.

Die tyd van die jaar is veiligheid baie hoog op die agenda. “Die feestyd is reeds die tyd waarin meer opportunistiese kriminele deel van die span word, wat hul toespits op kriminele aktiwiteite in die landelike omgewing.”